Author: Bets de Lang Genre:
Rating

Sy oë raak gewoond aan die donker en hy tree nader. Die straatlig gooi ligstrepe oor albei beddens. Die dieper snork en die sagter, ritmiese asemhaling wissel mekaar af. Hulle slaap vas. Die muwwe sweetreuk omvou hom soos ʼn tweede vel en sy keel word dik.

Hier en daar tjier ʼn vloerplank effens onder sy kaalvoete tot langs die vrou se bed. Sy lê op haar sy, met haar rug na hom. Sekondes lank staan hy bewegingloos, toe asem hy diep en met een slag van die 4-pond hamer, dryf hy die yspik tot by die houthef in haar slaap.

Haar lyf spasma effens.

Met ingehoue asem beweeg hy rats om die voetenent tot tussen die beddens. Die man roer onrustig. Toe gaap hy luid, beur die swaar lyf orent en swaai sy bene lomp aan die vensterkant van die bed af.

Die eerste hamerhou kloof die man se agterkop oop en ʼn onaardse brul skeur die stilte. Die man val skuins terug op die bed en die hamerslae verpulp die logge liggaam tot ʼn donker massa.

Die bloedreuk vang die slaner onkant en die hamer val kletterend op die houtvloer. Die bedompige walms stuif in sy neus op en die bloedsmaak lê sy mond vol. Stadig sak hy op die voetenent van die vrou se bed neer en vee oor sy gesig. Dis nat. En toe, asof hy nie genoeg kan kry nie, teug hy diep.

Na ʼn ewigheid verstil die roggel. Toe staan hy op, gryp die yspik en steek na steek borrel ʼn nuwe genot deur sy are. Hortend stoot sy asem toe hy uiteindelik terugtree.

Die skielike stilte suis in sy ore en glashelder kom staan die wete voor hom: dié ekstase wil hy weer ervaar. Toe raap hy die hamer van die vloer af op en vee die bloed sommer met die laken af.

Dis verby …

Met sy hand op die ronde koperdeurknop, pen sy oë die toneel vas. Die vlek teen die kraakwit linne en die donker straaltjie oor die vrou se wang hou sy oë gevange. Hy bêre elke stukkie detail diep weg. Toe trek hy die deur sag agter hom toe. Sy werk hier is klaar.

Die hopie goed wat hy in die kombuis bymekaargesit het, gryp hy in die verbygaan. Buite stoot hy sy vrag onderdeur die draadheining en vlugvoetig spring hy oor die draad.

Die donker sluk hom in …

Bestellings en navrae kan gerig word aan: betsdelang@gmail.com of 084 257 9481

 

Prys: R280.00

Dagbreekuitgewers Bestel Vorm

 

Verification

Comments are closed.